Wie Is Ons

SASNEV se geskiedenis

SASNEV Biblioteek
Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV)

Die oorsprong van SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, lê in die testament van die mynmagnaat Ebel Hero Ebels (1897 – 1976), ’n Nederlander wat byna sestig jaar lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk – en uiteindelik ook gesterf het.

Lees Verder

Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV)

Die oorsprong van SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, lê in die testament van die mynmagnaat Ebel Hero Ebels (1897 – 1976), ’n Nederlander wat byna sestig jaar lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk – en uiteindelik ook gesterf het.

Die saadjie waaruit SASNEV sou spruit was die Willem de Zwijger-stigting (WdZ), wat met die dood van Ebels in Johannesburg op 12 November 1976 tot stand sou kom – soos hy in sy testament bepaal het. Daarvoor het hy bykans sy hele nalatenskap bewillig. Die fokus van SASNEV se werksaamhede hou dus verband met die oortuigings van hierdie Nederlander, wat, saam met studentevriende vroeg in die 20ste eeu, die idee van die Groot Nederlandse Gedagte gesteun het.

Hierdie begrip stam uit die jare kort na die Eerste Wêreldoorlog en gee uiting aan die ideaal om alle Nederlandssprekendes, oor landsgrense heen, te verenig onder een simboliese vaandel, veral met verwysing na Nederland en Vlaandere. Later word daarna verwys as die “Algemeen-Nederlandse saak”. Vroeg in hierdie idealistiese tyd, egter, was daar ook ’n gevoel van stamverwantskap met Suid-Afrika.

Vandag is die Huis der Nederlanden, nou die SASNEV-gebou, die kragtige spilpunt van die uitlewing en verspreiding van die Nederlandse kultuur in Suid-Afrika in die ruimste sin van die word. Die inlywing van die Nederlandse Boekerij – oorspronklik uitsluitlik verbonde aan die Algemeen-Nederlands Verbond (ANV) – kan gesien word as ’n gelukkige toeval betreffende die mens Ebels. Want uit sy briefwisseling met ’n oud-studentevriend het die interessante feit onlangs aan die lig gekom dat Ebels met sy aftrede (in Europa) graag “dicht by een grote bibliotheek” sou wou gaan woon het.

Ebels (asook die studentevriende wat hy in sy testament as lede van die eerste WdZ-kuratorium sou benoem) was ’n aktiewe lid van die ANV, waarbinne die drie “stamverwante” strominge byeengekom het: Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika.

Dat Ebels die ideale uit sy studentetyd nooit versaak het nie blyk uit sy nalatenskap vir die stigting van die WdZ-stigting om die Groot Nederlandse Gedagte te bevorder – asook uit gesprekke en briefwisseling oor die jare heen tot kort voor sy dood.

Ebels se konneksie met die ANV kan ook as ’n gelukkige toeval beskou word, siende dat die hart van vandag se SASNEV (die vrug van die WdZ-stigting) en die Nederlandse Boekerij (met sy oorsprong in die ANV) uiteindelik saam sou klop, en wel onder een dak by SASNEV (die voormalige Huis der Nederlanden) in Pinelands.

In die vroeë jare van die WdZ se bestaan was Suid-Afrika weens die apartheidsbeleid buite die spel – die bestuur van WdZ was toe reeds daarop gerig om ruimte te skep vir progressiewe doelstellings (gemeet aan die verlede). Dit is eers met die beëindiging van apartheid in die 1990s dat Suid-Afrika betrek sou word – en wat die WdZ-stigting in SA werklik op dreef sou kom.

In die 1990s het, wat toe die ANV Boekerij was, geworstel met finansiële probleme wat die voortbestaan daarvan bedreig het. Om uiteenlopende redes besluit die WdZ in hierdie tyd om ’n gebou – eens die kerksaal van die NGK in Pinelands – aan te koop. Dit sou voortaan ook die biblioteek huisves. So is die verskillende draadjies van oorsprong daar saamgetrek, en sou daar ’n gesamentlike invloed uitstraal vanaf SASNEV (die aanvanklike Huis der Nederlanden) in Pinelands.

Hierdie vennootskap wat in 1997 gesluit is tussen die Stichting Huis der Nederlanden (tans bedryf as SASNEV), die WdZ en die ANV Afdeling Kaapstad sou bande tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika verstewig.

Sedertdien is SASNEV die enigste onafhanklike private ruimte in Suid-Afrika wat die Nederlandse taal en kultuur op ’n permanente, deurlopende grondslag vooropstel. Dit is die enigste vaste en toeganklike bymekaarkomplek vir liefhebbers van die Nederlandse taal en kultuur. Terselfdertyd bevorder dit die gemeenskaplike belange en samewerking tussen Nederlands- en Afrikaanstaliges en bied ’n neutrale ruimte waarbinne verteenwoordigers van die ruim 24 miljoen Nederlandstaliges in Europa en 6 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, mense met nou verwante tale en kulture, mekaar kan ontmoet en van mekaar kan leer.

Die eienaarskap van die ANV Boekerij is in 1998 ook in bruikleen oorgedra aan SASNEV, met die bestuur daarvan vandag in die hande van die Vriende van die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad, wat onafhanklik van SASNEV optree. Dit huisves vandag die grootste versameling Nederlandse bronne in die Suidelike Halfrond, met meer as 30 000 titels, en is die enigste Nederlandse biblioteek in Suid-Afrika wat in privaatbesit is dog vir die gewone publiek toeganklik is.

Oor die afgelope agtien jaar het die ondersteuning van die Willem de Zwijger-stigting dus gelei tot ’n groot uitstraling van die “Nederlandse” ruimte in en ver buite Pinelands: ’n gemeenskapsfokuspunt met sy eie identiteit, gerespekteerde status en bedingingsmag. Met die vastigheid wat sy eie ruimte bied, verwelkom SASNEV jaarliks 25 000 besoekers uit alle sfere van die publiek. Dit is vandag ’n onmisbare spilpunt van Nederlandse en ook Afrikaanse kulturele aktiwiteite.

Ebel Hero Ebels

Ebel Hero Ebels
(Gebaseer op HL de Langen se boek: Ebel Hero Ebels, befonds deur die Willem de Zwijger-stichting, gepubliseer 1983)

Ebel Hero Ebels (1997- 1976) stam uit ’n welgestelde Oldambster-boeregeslag, van die provinsie Groningen, wat benewens boerdery-bedrywighede ’n maatskaplik-politieke rol in hul tyd gespeel het.

Lees Verder

(Gebaseer op HL de Langen se boek: Ebel Hero Ebels, befonds deur die Willem de Zwijger-stichting, gepubliseer 1983)

Ebel Hero Ebels (1997- 1976) stam uit ’n welgestelde Oldambster-boeregeslag, van die provinsie Groningen, wat benewens boerdery-bedrywighede ’n maatskaplik-politieke rol in hul tyd gespeel het. Oldambt was ’n gebied wat grotendeels uit teruggewonne – en uiteindelik baie vrugbare – grond bestaan het.

Sy persoonlike agtergrond word deur De Langen as ”vrij triest” (treurig) beskryf, weens talle siekte- en sterfgevalle in sy eie familie en dié van sy ouers. Toe sy ouers ’n tyd lank eers na Switserland en toe Egipte verhuis het omdat twee van hul kinders tering gehad het, moes Ebels byvoorbeeld in Nederland by vreemdes tuisgaan ter wille van sy skoolopvoeding.

Ná sy skoolloopbaan is hy in 1915 na Delft as student in skeikunde. Daar sluit hy as ’n aktiewe lid aan by die studentetak van die Algemeen Nederlandse Verbond. Die tydsgees word so beskryf: Vlaandere was verfrans, Suid-Afrika nog nie onafhanklik nie. Die Anglo-Boereoorlog was vars in die geheue en die band met die vroëre boererepublieke en Kaapkolonie was nog sterk. Met heelparty Afrikaners wat in Nederland studeer het, is hierdie konneksies versterk.

In Delft is Herman GC Cohen Stuart, ’n vriend van Ebels en wie dekades later deur hom aangewys is as curatoriumlid van WdZ, die leier van die ANV-studentetak. In hierdie tyd is dit veral die Vlaamse stryd wat belangrik is, maar daar is ook aandag geskenk aan wat die “radikale standpunt” oor Suid-Afrika genoem is.

By ’n grensverskuiwende Groot Nederlandse Studentekongres in 1921 val die fokus veral op wat bekend staan as die Groot Nederlandse Gedagte, wat ten doel het om in taal en kultuur alle Nederlandssprekendes onder een simboliese vaandel te verenig. Delftse studente word na verloop van die kongres so radikaal, dat hulle nie meer by die rustige ANV (De Langen se woorde) ingepas het nie en vervolgens die Dietsche Studentenverbond stig. Ebels, deur De Langen beskryf as ’n man van min woorde maar op wie se daad daar gereken kon word, was aktief in hierdie sake. Dit sou so ’n rigtinggewende tyd in Ebels se lewe wees dat dit uiteindelik die inhoud van sy testament bepaal het.

Ebels het egter sy studierigting betwyfel en hy verander van rigting, om in rekordtyd ’n graad in die handelsekonomie te behaal. Kort daarna vertrek hy na Suid-Afrika. Niemand is presies seker wat die rede daarvoor was nie – en geen gedokumenteerde woorde bestaan wat in sy mond of aan sy hand gelê kan word nie.

De Langen skryf dat ten spyte van die hegte bande wat Ebels as student met ander gesmee het, hy ’n eensame figuur geskep het. Daar was geen sterk band met sy vader nie, terwyl sy moeder hom toe reeds ontval het en sy jongste suster, Anna Geertruida (Annie), sy enigste oorlewende sib, was 13 jaar jonger as hy.

De Langen meen Ebels het ook van die sosiale groep waarin hy gebore is, afstand gedoen, en hy wonder of dit was om, ver en onafhanklik van, sy vader sy eie loopbaan te gaan bou? Of, was dit oor die Boere, sy stamverwante, van wie hy so baie gehoor het tydens die studietydperk in Delft? Oor sy stamverwante sou Ebels later egter twyfel – of so blyk dit, volgens De Langen. De Langen skryf egter ook dat Ebels se jongste suster, Anna Geertruida vertel het dat gesondheid die rede vir Ebels se besluit was.

Besonderhede oor sy bewegings in Suid-Afrika is skraps. Eers gaan hy tuis by ’n oom met die van Oosterhuis, wat in die destydse Oos-Transvaal geboer het. Later doen hy ondervinding op by ’n ander oud-Groninger, ’n mnr Veldman, op ’n Wes-Transvaalse plaas. Ebels, wat van sy moeder geërf het, koop hierna ’n plaas in die distrik Davel in die Oos-Transvaal. Hy hou duisende skape aan en verbou mielies. Maar dalende wolpryse en sprinkaanplae – asook die eentonigheid van die plaaslewe, wat glo nie by sy lewendige aard pas nie – laat hom die plaas van die hand sit. Dit alles volgens sy suster, soos vertel aan De Langen.

Ebels vestig hom daarna as prospekteerder in Johannesburg, met konsessies in die mynbedryf. Op ’n tyd sou hy daarnaas ook ’n in- en uitvoersaak bedryf.

Oor haar broer skryf sy suster in die volgende trant aan De Langen:
In Suid-Afrika kon hy op sy eie manier ontplooi. Hy het as ’n sakeman met “grote stijl” ontwikkel. Sy belangstelling in etnologie het sy kennis van die plaaslike stamme in Suid-Afrika uitgebrei. Hy het vriende onder mede-Nederlanders gemaak en was ’n skitterende geselser, eerlik, betroubaar, met visie en helder insig. In die sakewêreld was hy hoogs aangeskrewe. Hy het ook graag jong immigrante bygestaan.

Ebels se kontak met familie en vriende blyk sporadies te gewees het, hoewel sy suster Annie hom in later jare soms in Suid-Afrika besoek het, en hy ook soms by die De Langens in Nederland tuisgegaan het tydens besoeke aan Nederland (en elders in Europa). Met een van hierdie besoeke het Ebels in 1970 aan De Langen vertel dat hy beoog om na Europa terug te keer, dat hy liefs in Vlaandere wou woon, en op ’n plek wat hom toegang tot ’n groot biblioteek sou gee.

By dieselfde geleentheid het Ebels melding daarvan gemaak dat hy sy boedel met sy dood wil laat aanwend om die Groot Nederlandse Gedagte te bevorder. Uit Ebels se testament sou dit later blyk dat hy reeds in 1964 die Willem de Zwijger-stigting, wat operasioneel sou word met sy dood, opgerig het. In 1971 skryf hy gelyktydig aan De Langen en Cohen Stuart ’n lang brief, met “allerlei interessante beschrijvingen van landschappen in Zuid-Afrika”, asook oor wat met sy boedel/nalatenskap sou gebeur.

“Natuurlik weet ek dat daar by julle ook nog altyd belangstelling is vir die Groot (ek sê eerder Algemene) Nederlandse saak en dit maak dat ons altyd veel in gemeen het, want by my was die saak ook nog altyd van belang gewees. Soveel so dat ek ook graag daaraan uitdrukking wil gee in die kort tydjie wat my miskien nog gegee word – deur bv ’n reëling te tref aangaande my wêreldsbesit ten dienste van die saak. En spesiaal ook vir ’n ‘afskeidsreëling’. Nie dat ek my verbeel dat ek veel van belang kan doen nie, maar iets is beter as niks. Moenie dink dat dit ’n obsessie by my is nie; ek het allerlei belangstellings op ander gebiede en my tyd is oorvol – helaas ook nog altyd met die materiële strewe van elke dag, wat mens my ‘sake’ sou noem. Aan laasgenoemde kom daar ook ’n einde. Ek verwag ook om hierdie jaar (Desember?) nog my verblyf hier op te gee en my êrens in Europa te kan vestig.”

Later daardie jaar het Ebels wel na Europa gereis, maar nie by De Langen aangedoen nie, waaroor hy in Augustus 1971 verontskuldiging doen. Die man wat aan die einde van daardie jaar (“plus minus einde Okt of Nov”) ook definitief na Europa wil terugkeer, skryf egter ook: “Ek is nog altyd besig met eksplorasie-boorwerk, altyd asbes. Dit gaan uiters langsaam.”

Vir enkele jare daarna hoor De Langen self niks van Ebels nie, behalwe nuus via Annie Ebels, wat haar broer af en toe in Suid-Afrika besoek. Die laaste brief aan De Langen skryf Ebels op 7 Januarie 1976, aan die voet van Tafelberg in Kaapstad waar hy met sy suster op besoek is. Hy skryf weer dat hy hoop om sy sake in daardie jaar af te handel en na Europa terug te keer. Weer vermeld hy sy behoefte om naby ’n biblioteek te woon.

Maar hy sterf daardie selfde jaar, in Johannesburg. By sy begrafnisdiens in Nieuw-Berta in Nederland, skryf De Langen, was talle mense teenwoordig buiten familie – ten spyte van Ebels se afwesigheid van bykans 60 jaar. In sy grafrede praat De Langen oor Ebels se moeilike jeug, maar sê dat dit diepte aan sy lewe gegee het, hom ’n man met vele belangstellings, veral in mense, gemaak het. Maar wat hom veral geroer het, was ideale. “Een van hierdie ideale was die welstand van die Nederlandse stam in sy verskillende vertakkings. Dit was hierdie belangstelling wat hom na Suid-Afrika gedryf het en hom daar laat bly het toe hy teleurgesteld was oor baie wat sy stamverwante daar gedoen het. [Hierdie is die enigste direkte verwysing na wat waarskynlik die apartheidsbeleid in Suid-Afrika was.] Hy het altyd ’n spesiale plekkie in sy hart vir Vlaandere bewaar …”

Ebel Hero Ebels was ’n alleenloper, wat nooit getrou en kinders gehad het nie. Met sy dood sou die Ebels-naam in hierdie stamlyn van die familie dus uitsterf.

Maar met sy nalatenskap van die Willem de Zwijger Stigting leef Ebels se gedagtenis voort.