Biblioteek

SASNEV huisves die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad met ’n groeiende versameling van meer as 27 000 Nederlandstalige boeke, CDs, DVDs, tydskrifte en koerante. Die biblioteek beheer ’n klein maar waardevolle en hoogs aangeskrewe versameling Afrikaanse fiksie en nie-fiksie (insluitend die Rykie van Reenen-versameling). Die Nederlandse Biblioteek is oop op Dinsdae, Donderdae en Saterdae van 09.30 tot 13.00 uur.

KORT GESKIEDENIS VAN DIE BIBLIOTEEK

Die bestaan van ’n Nederlandse biblioteek loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV), soos laasgenoemde daar vandag uitsien.

SASNEV Pinelands

Die gedagte (en verlange) aan ’n biblioteek blyk ook uit Ebel Hero Ebels, wat die Willem de Zwijger Stigting (WdZ) – ten nouste verbind met die bestaan van die Nederlandse Boekerij (NB) soos dit vandag daar uitsien – in sy testament in die lewe geroep het, se briefwisseling met vriende. In sy laaste jare skryf hy gereeld aan sy vriend HL de Langen oor die behoefte om hom naby “’n goeie biblioteek” te vestig.

Ook in die geskiedenis van die Algemeen Nederlands Verbond (ANV), hier in Kaapstad te lande, waaruit die NB ontstaan het en wat vandag in die SASNEV gehuisves word, staan die NB sentraal.

Dit was op 13 Junie 1913 wat die biblioteek/De Boekerij ontstaan onder die naam Hollandsche Leeskamer in Kaapstad, danksy ‘n subsidie van die ANV in Nederland. Boeke is oorspronklik in 1903 deur die ANV (Nederland) na die ANV afdeling Kaapstad versend. Dit word in die Afrikaanse Koffiehuis in die Groote Kerk-gebou in Kaapstad gehuisves.

In 1918 ontvang die Leeskamer die eerste gereelde finansiële ondersteuning van die Kaapse Provinsiale Administrasie. Die naam verander na Openbare Hollandsch-AfrikaanseBoekerij en Leeskamer ANV.

Op 29 Augustus 1934 verhuis die biblioteek na Leliestraat 6 in Kaapstad vir die volgende 32 jaar, onder die amptelike naam Openbare Afrikaans-Nederlandse Boekerij en Leeskamer. Hierdie gebou word in 1965 afgebreek en die boeke word tydelik gestoor.

Een jaar later, in 1966, trek die biblioteek na die Waalburggebou in Kaapstad – vir die volgende 16 jaar. Die huurkontrak vir die Waalburggebou verval in 1982 en alles word weer tydelik gestoor. Ook in 1982, begin die Van Ewijck Stigting die biblioteek se huurgeld subsidieer.

In 1983 verskuif die biblioteek na die Satbel Gebou in Groenpunt, Kaapstad waar dit op 27 April 1984 weer vir die publiek open. In 1989 verander die naam na Nederlandse Boekerij-ANV.

Die subsidie wat ’n aantal jare van die Nederlandse regering ontvang is, kom in 1981 tot ’n einde met die verval van die kulturele verdrag tussen Suid-Afrika en Nederland. Finansiele steun word egter ontvang van bronne soos die ZASM (Zuid-Afrikaanse Stichting Moederland), Visser-Neerlandiafonds en die Van Ewick-stigting in Kaapstad.

Maar dit is die WdZ-stigting wat ’n kardinale rol sou speel in die voortbestaan van die biblioteek, sedert dit in 1991 besluit om finansiele steun te verleen met die verhuring van ‘n groter ruimte in die Satbel Gebou in daardie jaar. Die biblioteek word ook die middelpunt van alle aktiwiteite van die ANV Kaapstad.

Die boekerij funksioneer egter sedert 1913 onafhanklik, met sy eie bestuur. Die WdZ-stigting besluit in 1995, in oorleg met die ANV Kaapstad, om ‘n gebou aan te koop en dit uit te brei tot ‘n volwaardig Nederlands-Vlaams-Afrikaanse kultuursentrum – en wat ook die boekery sou huisves.

Sedert die middel van Augustus 1997 funksioneer die biblioteek dus uit hierdie nuwe gebou in Pinelands, die gevolg van ’n vennootskap wat gesluit is tussen die Stichting Huis der Nederlande (tans bedryf as SASNEV), die Willem de Zwijger Stichting (WdZ) en die ANV Afdeling Kaapstad – spesifiek met die oogmerk om geskikte huisvesting vir die ANV Boekerij te vind en in die proses die bande tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika te verstewig en uit te bou.

En dit is uit hierdie gebou wat die boekery steeds ’n sentrale rol speel in die samekoms van mense wat simpatiek staan tot die voortlewing van die Nederlandse taal en kultuur – soos dit verwoord word deur die betekenis van die Groot Nederlandse Gedagte.

Die eienaarskap van die ANV Boekerij is in 1998, inklusief bronnemateriaal, op permanente bruikleen oorgedra aan SASNEV.

Die huidige biblioteek is vroeër, tot en met 2005, bestuur as integrale deel van die Huis der Nederlanden (vandag SASNEV). Die bestuur van die biblioteek is vandag in die hande van die Vriende van die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad, onafhanklik van SASNEV.

Maar dit is SASNEV wat die grootste versameling Nederlandse bronne in die suidelike halfrond huisves, met meer as 30 000 titels. Dit is die enigste toeganklike private Nederlandse biblioteek in Suid-Afrika waar ʼn Nederlandse boek uitgeneem kan word.